March 4, 2021

Ultimate Drive

Your FREE Motoring Publication in the Western Cape

RENAULT DUSTER 1.5 dCi 4×4

Renault se Duster is wêreldwyd gewild en het reeds meer as ‘n miljoen eenhede verkoop. Die Fransman het ook ‘n groeiende aanhang in Suid Afrika, veral sedert die tweede generasie in September 2018 ter plaatse bekendgestel is, aanvanklik eers net met voorwielaandrywing.

Terwyl meeste middelslag sportsnutse plaaslik meerendeels slegs beskikbaar is in voorwielaandrywing, bied die Duster kopers ook ‘n vierwieltrek opsie vir meer as om net stofpad te ry en voorstedelike randstene te trotseer.

Plaaslik word die 4×4 model aangedryf deur slegs die 1.5 dCi dieselenjin wat nou 80 kW se piek krag lewer met 260 Nm wringkrag. Dit is effe hoër as die kraguitsette in die voorwielaangedrewe model met die EDC-outomatiese ratkas. Die 4×4 is in Suid Afrika net beskikbaar met ‘n 6-spoed handratkas. Die ratkas bied egter drie verstellings na gelang van die tipe pad. Ry jy op die teerpad kies jy die 2-wieltrek opsie en al die krag word na die voorwiele gestuur. Met die keuse op “Auto” bepaal die stelsel self, na gelang van die tipe ry-oppervlakte, waarna en hoe die krag tussen die vier wiele versprei word. Wil jy egter met die Duster in die veld gaan rondkarjakker, kies jy die derde opsie waar die krag permanent na al vier wiele gestuur word.

Met ‘n grondvryhoogte van 210mm en ‘n intree- en vertrekhoek van onderskeidelik 30⁰ en 34⁰, was ek verbaas om te sien hoe gemaklik die Fransman moeilike en uitdagende terrein baasgeraak het. Die “Heuwel-af-help” stelsel waar die motor se remstelsel self die spoed teen steil afdraandes af bepaal, asook die 4×4-monitor wat die terrein se helling en hoek aandui , het baie bygedra dat die nuwe Duster die moeilike hindernisbaan redelik maklik kon baasraak. So ook die kameras reg rondom die voertuig wat die bestuurder help om moontlike hindernisse by die wiele betyds raak te sien.

Binnekant is die nuwe Renault Duster 4×4 se kajuit prakties uitgelê en goed toegerus. Afgesien van die lugversorging met klimaatbeheer, is daar ondermeer elektriese verstelling vir die kantspieëls en vensters. Daarby ook is satelietnavigasie, blindekol waarskuwing, parkeerhulp met ‘n trukamera asook ‘n mediastelsel met klank, telefoonkoppeling na Bluetooth en rit- en motorinligting wat met hoë definisie beelde op die raakskerm middel in die voorste paneel vertoon word, standaard. Die Duster 4×4 is verder toegerus met wegtrekhulp en wanneer teen ‘n opdraande gestop word, sal die remme die voertuig teen die opdraand “vashou” totdat diekoppellaar gelos word.

Terwyl die nuwe Duster veel meer verfynd geraak het met ‘n meer weelderige kajuit en sagter rit, het dit geensins van die hardebaard eienskappe van die vorige modelle verloor nie. Al bied die nuwe 4×4-model geen lae strek-opsie vir die ratkas nie, was die nuweling gemaklik op die 4×4 hindernisbaan waar dit duidelik geblyk het dat ‘n baie kort eerste rat in ‘n groot mate vergoed vir die tekort aan lae strek.

Die tweede generasie Duster het danksy ‘n moderne voorkoms en luukser kajuit omtrent 50% meer as sy voorganger verkoop in die kort tyd sedert dit die mark laasjaar betree het. Met ‘n indrukwekkende amptelike brandstofverbruik van 5,2l/100km en ‘n CO₂ syfer van 138g/km, behoort die nuweling oor ‘n breë koperspektrum gewild te wees

Met die 4×4 model teen ‘n uiters mededingende prys van R327,900 het Renault hier die regte perd beet, wat myns insiens in gewildheid gaan groei. Die nuwe Dustert bly my eerste keuse in die kompakte leefstylsegment.

Artikel: Dirk Gallowitz