December 2, 2020

Ultimate Drive

Your FREE Motoring Publication in the Western Cape

Toyota RAV4

Toe die oorspronklike Toyota RAV 4 in 1994 internasionaal bekend gestel is, was dit die begin van ‘n rewolusie in sportnuts voertuie; dit het wel veldry vermoë gehad, maar nie ‘n laestrek-ratkas nie en sy kompakte afmeetings het hom so maklik gemaak om te bestuur soos ‘n luikrug.

Die vyfde geslag van Toyota se baan breker is die eerste Toyota wat die nuwe TNGA (Toyota New Global Archietcture)-platform gebruik. Dit neem die jongste weergawe van die RAV 4 na ‘n nuwe tyd-vak waar vermoë, verrigting en veiligheid met ‘n kragtige nuwe ontwerp beklemtoon word. Die nuwe platform is ook daarop gemik om bestuursgenot te verbeter. Nog ‘n voordeel van die nuwe platform is die verbeterde binne- en bagasie-ruimte. Hoewel die nuwe RAV 4 korter as sy voorganger is, is die afstand met 30 mm verleng om ‘n ruimer kajuit te verseker. Gemak vir die agterste passasiers is verhoog deur breër sitplekke, groter agterste voetholtes en agterdeure wat teen ‘n groter hoek oop gemaak kan word. Die bagasiebak word beskou as die grootste in sy klas, met ‘n heeltemal plat vloer en ‘n kapasiteit van 580 liter. Wanneer die agter-sitplekke, wat in ‘n 60/40-verhouding verdeel word, platgevou word, kan ‘n 29 duim-bergfiets met gemak ingelaai word sonder dat die wiele afgehaal word. Die laairum het ook ‘n tweevlak-hoogte aanpasbare dekplank wat omgekeer kan word wanneer vuil goedere vervoer word. Daar is ook bergnette aan die linker- en regterkant van die laairum.

Die nuwe ontwerp word gekenmerk deur duidelike en hoekige lyne, ‘n fris stamper en sier-rooster, ligdiode-kopligte en agterligte wat ‘n breë, atletiese bou skep wat na agter dunner word en die motor ‘n gespierde voorkoms gee. Die algehele grondvry hoogte is verbeter en die voorste en agterste oorhange is korter; gevolglik kan die nuwe RAV 4 enige terrein met gemak aandurf.

Wat die enjin-reeks betref, is slegs twee petrol-enjins met vier silinders is vir die nuwe reeks beskikbaar. Die intree modelle word toegerus met ‘n tweeliter-enjin wat met ‘n sesgang-handratkas of ‘n Shiftmatic-palwissel (CVT)-ratkas beskikbaar is. Laas genoemde ratkas het nou tien geprogrammeerde stappe pleks van sewe, en ‘n vaste eerste rat vir vinnige wegtrek-versnelling. Hierdie enjin lewer 127 kW teen 6 600 opm en wringkrag van 203 Nm teen tussen 4 400 en 4 800 opm.

Die 2,5 liter-enjin is net beskikbaar met ‘n Sport Direct Shift- outomatiese ratkas met agt gange. Hierdie enjin lewer 152 kW teen 6 600 opm en wringkrag van 243 Nm teen tussen 4 000 en 5 000 opm. Albei enjins spog met Toyota se nuwe veranderlike kleptydreëling wat die inlaat van vars lug, brandstof en ontbrandings-gasse beheer en die tydreëling van die kleppe beheer om by die werksvereiste van die enjn aan te pas en ‘n gevorderde bestuurs ervaring te bied.

Die RAV 4 is onder meer beskikbaar met vierwiel aandrywing; dié stelsel is verbeter met die bekendstelling met AWD-geïntegreerde beheer, wat verskillende voertuigstelsels soos stuurhulp, rem- en versneller beheer, ratwissel patroon en wringkrag-verdeling aanpas na gelang van die bestuursmodus wat gekies word. Die beskikbare modusse vir die AWD-model is Mud and Sand (modder en sand) en Rock and Gravel (klippe en grondpad).

Drie spesifikasie-vlakke is vir die RAV 4-reeks beskikbaar. Die intreemodel is die 2,0 GX, bied allooiwiele van 17 duim, dakrelings, sleutellose toegang met ‘n aansitknoppie, ‘n inligting-en- vermaakstelsel met ‘n vertoonskerm van sewe duim, ‘n trukamera,spoedbeheer en parkeersensors agter. Die GX-R is gemik op die meer avontuur lustige koper en is een van twee vierwiel aangedrewe modelle in die reeks. Hierdie model bied ‘n groter boonste sierrooster met breë horisontale sparre, groter en meer promiente skuurplate en bonkige, swart wielnisstroke. Die GX-R oorbrug die gaping tussen die GX en die VX met die toevoeging van elektries beheerde leersitplekke met laerugsteun en sitplekverwarmers, ‘n leeroorgetrekte stuurwiel, ‘n binetruspieël wat outomaties verdof, reënsensorruitveërs, klimaatbeheer en allooiwiele van agttien duim.

Die VX-spesifikasie vlak is vir albei enjins beskikbaar; die 2,0 VX kry die CVT-ratkas as standaard toerusting en die 2,5 VX is die ander vierwiel aangedrewe model in die reeks. Hierdie modelle word van die res van die reeks onderskei deur middel van hoëglans-alloowiele van negentien duim, outomatiese hoë-straal kopligte, blindekol-monitor met agterkant- dwars verkeer-waarskuwing, ‘n elektries beheerde agterklap, ‘n panoramiese uitsig-monitor en voorste parkeersensors. Die TFT-inligtingsvertoonskerm word in die middel van die voorpaneel aangetref en verskaf ‘n verskeidenheid inligting, onder meer ‘n digitale spoedmeter, alle inligtinglesings, spoedbeheer en die status van veiligheids eienskappe, waar aangebring. Die AWD-modelle se wringkrag verdeling kan ook hier gemonitor word.

Die RAV 4-reeks word met ‘n magdom veiligheids kenmerke toegerus. Elektroniese bestuurshulpmiddels soos ABS-remme met elektroniese remkragverdeling, stabiliteirsbeheer, sleepswaaibeheer en wegtrekhulp is standaardtoerusting en alle modelle het ‘n volledige stel lugsakke, wat knie- en gordynlugsakke insluit, as standaardtoerusting. Die VX-modelle voer dit verder, met die toevoeging van Toyota Safety Sense wat sy debuut in die RAV 4 maak. Dit bestaan uit aanpasbare spoedbeheer, baan-wissel waarskuwing (LDA) met stuurwiel-beheer, blindekolmonitor en ‘n voorbotsstelsel. Die aanpasbare spoedbeheer en LDA verskaf ‘n vlak van outonome bestuur die die VX-modelle deur stuurwiel beheer en radar beheerde remwerking in samewerking met versneller beheer.

Die pryse van die verskillende modelle, wat ‘n diensplan vir ses versienings of 90 000km met tussenposes van ‘n jaar of 15 000 km, asook ‘n waarborg van drie jaar of 100 000km insluit, is soos volg:

  • RAV4 2.0 GX MT 2WD – R416 400
  • RAV4 2.0 GX CVT 2WD – R427 600
  • RAV4 2.0 GX-R CVT AWD – R508 100
  • RAV4 2.0 VX CVT 2WD – R505 400
  • RAV4 2.5 VX 8AT AWD – R577 900

Artikel: Gerrie Smit