December 1, 2020

Ultimate Drive

Your FREE Motoring Publication in the Western Cape

2019 Wesbank Brandstofbesparingsrit

Die storie agter die “Rit”.

Met die afgelope 2019 Wesbank Brandstofbesparingsrit, het Suid-Afrika nou weer ‘n barometer van werklike brandstofverbruik in operasionele toestande nadat die jaarlikse Total Brandstofbesparingsrit in 2014 tot einde geloop het. Die Total Besparingsrit was ‘n projek wat deur die Pretoriase Motorklub sedert 1977 gereël was om te bepaal watter motors die mees ekonomiese brandstofverbruiksyfers genereer. Ongelukkig het die Total-maatskappy in 2015 besluit om na 37 jaar nie die projek verder te ondersteun nie en daar was nie weer so ‘n rit aangebied nie.

Agter die skerms is daar egter dadelik begin werk om die Total Besparingsrit te vervang met ‘n nuwe formaat wat aanpas by vandag se tye. Daar is besluit om die nuwe besparingsrit vanaf Johannesburg via Durban na Kaapstad toe te neem en nie net die roete in ‘n bepaalde gebied in Suid-Afrika te hou nie. Dit het dadelik tot gevolg dat brandstofverbruik ook onder verskillende hoogtes bo seespieël getoets word. Met oorlede Jan Hettema as baanmeester van meeste van die Total besparingsritte, was dit ‘n tawwe tydren waarvan groot gedeeltes op grondpaaie gehou is.

Vandag se motoris vermy egter eerder grondpaaie en besparingsritte op grondpaaie is nou oorbodig. Die afgelope dekade het ook meer gesofistikeerde dieselkragbronne en selfs meer hibriede motors en elektriese motors na vore laat kom en mens het begin wonder hoe brandstofekonomies hulle is. Suid-Afrikaanse motoriste het intussen al hoe meer vervaardigers se amptelike brandstofverbruikssyfers begin betwyfel en ‘n nuwe brandstofbesparingsrit was dus nodig.

Die Toyota Hilux op roete tussen Wildernis en George.

Die 2019 Wesbank Brandstofbesparingsrit spreek hierdie nuwe vereistes aan en is baie meer wetenskaplik en tegnologies gerig om werklike betroubare brandstofverbruiksyfers te bied. Die organiseerders het byvoorbeeld die Ctrack-maatskappy aanboord gekry om deur sateliettegnologie die voertuie se werklike snelhede te bepaal en seker te maak dat daar nie gekul word geen kortpaaie geneem word, soos wat in die Total Besparingsrit, wel gebeur het nie. Ctrack het ook kamera’s in elke deelnemende motor geplaas om te verseker dat elke deelnemer veilig ry en veral nie oor sperstrepe stadige verkeer bygaan nie.

Die roete is ook ook meer getrou aan werklike padverbruik: Lang oop teerpaaie wat deur die stadsverkeer in die stede en dorpe op die roetes afgewissel word, in plaas van bospaaie in Mpumalanga. Die Wesbank Brandstofbesparingsrit se roete strek oor ‘n afstand van 2431.55 km wat oor 5 dae afgelê word. Alhoewel dit op Saterdag 16 November in Kaapstad ten einde geloop het, is statistieke eers meer onlangs bekendgestel en nou kan ‘n mens begin aannames maak oor die deelnemende motors se verrigting. Dit is ook so dat die meeste deelnemende motors hierdie jaar dieselaangedrewe was, terwyl meestal petrol-aangedrewe motors aan die eertydse Total Beparingsrit deelgeneem het.

Deelnemers maak vol op George.

Dit is nou ‘n bekende feit dat Renault as vervaardiger die beste tydens hierdie rit gepresteer het, met Suzuki in die tweede en Mahindra in die derde plekke. Die verskil tussen die Renault Trio (Captur, Duster Techroad en Kwid Climber) en die Suzuki Trio (Baleno, Ignis en Swift) was ‘n skamele 0.0275 l/100 km!

Met die laaste volmaak in Kaapstad was alle oe op die pomp!

Die voertuig wat die minste brandstof tydens die 2019 Wesbank Besparingsrit verbruik het en ook as die algehele wenner aangewys is, is die Renault Captur 1,5 dCi. Sy gemiddelde dieselverbruik was 4,7319 liter per 100 km.

Die petrol-aangedrewe Toyota Aygo het slegs ‘n gemiddelde petrolverbruik van 4.8328 liter per 100 km aangeteken. Hierdie 3 silinder 1 liter motortjie het algeheel tweede gekom en in die proses beter as al die ander diesel-aangedrewe voertuie gevaar. Slegs die wen Captur kon die Aygo met letterlik ‘n paar druppels wen.

Die Lexus UX wat ook met ‘n 2 liter petrol-enjin toegerus het die hibriede klas verteenwoordig met ‘n gemiddelde petrolverbruik van 6.0348 liter per 100 km.

Suid-Afrika se gewildste voertuig is die Toyota Hilux en dit is goed om te sien dat ‘n Toyota Hilux 2.8 GD-6 4×2 dubbelkajuit nie net sy klas gewen het met ‘n gemiddelde dieselverbruik van 6.9412 liter per 100 km nie, maar ook beter as baie ander bakkie deelnemers met kleiner enjins gevaar het.

Die algehele wenner was die Renault Captur 1,5 dCi, terwyl Renault as fabrikaat ook algeheel gewen het.

Mitsubishi het op hulle beurt geen klasse gewen nie, maar wel bevind dat hulle amptelike fabriekbrandstofverbruikssyfers te pessimisties is en dat hulle baie beter syfers met hierdie besparingsrit bereik het.

Suzuki het geëindig met nie minder nie as ses klas wenne (Ignis, Vitara 1.6, Vitara 1.4, Baleno, Swift Sport and Ertiga), terwyl Ford (Fiesta en Ranger), Hyundai (Sante Fe en Venue), Renault (Captur en Duster) en Toyota (Aygo en Hilux 2.8) elk twee klasse gewen het. Ander klas wenners was Honda (HRV), Lexus (UX Hybrid) en Mahindra (KUV 100).

Suzuki as vervaardiger het die 2de plek los geslaan, ‘n skamele 0.0275 l/100 km agter Renault.

Die 2019 Wesbank Brandstofbesparingsrit was vir beide deelnemers en die algemene motorpubliek ‘n nuttige en leersame gebeurtenis. Voortaan moet egter al die vervaardigers braaf genoeg wees om aan die toekomstige brandstofbesparingsritte deel te neem.