May 12, 2021

Ultimate Drive

Your FREE Motoring Publication in the Western Cape

Groter, méér prakties Ertiga

Suzuki het onlangs die nuutste weergawe van sy sewe-sitplek MPV (multi-purpose vehicle), die Ertiga, in Suid-Afrika bekendgestel. Die voertuig, wat daarop gemik is om maksimum veeldoeligheid te bied, is effens groter as die model wat dit vervang en beskik oor ʼn nuwe enjin.

Die Ertiga was in 2010 bekendgestel en het oor die laaste dekade homself as ʼn belangrike model in Suzuki se plaaslike stal kom vestig. Die nuwe model is nou 130mm langer (totaal van 4395mm) as die ou model, en staan 1690mm (+5mm) hoër. Wydte is ook met 40mm verbreed en bied die Ertiga heelwat ruimte vir sy insittendes. Been- en kopruimte is ook beter. Die toename in grootte is veral te sien by die derde ry sitplekke waar twee addisionele passasiers kan inskuif. Alhoewel daai sitplekke normaalweg met klein kinders geassosieer word, seg Suzuki dat volwassenes met ʼn lengte van soveel as 1.75m daarin kan skuif. Dis ook danksy die 70mm van ekstra beenruimte.

Die nuwe Suzuki Ertiga doen weg met die 1.4-liter enjin van die vorige model en sal voortaan met ʼn aangepaste weergawe van die Jimny se 1.5-liter enjin diens doen. Hierdie nuwe enjin lewer 77kW en 138Nm en word aan óf ʼn vier-spoed outomatiese ratkas óf ʼn vyf-spoed handratkas gekoppel. Op die bekendstelling het ons die laasgenoemde ratkas onder hande geneem en het die manier hoe die Ertiga van rat verwissel veral beïndruk. Die Ertiga se kort afmetings voor beteken dat mens met gemak deur die stad se verkeer kan vleg, en die draaisirkel van 5.2m help dat jy nie soos ʼn Golden Arrow bestuurder hoef te sukkel nie.

Die Ertiga is beskikbaar in GA of GL spesifikasievlak en word die modelle baie goed met standaard toerusting toegerus. Die GA bied kopers elektriese vensters voor én agter, LED agterligte, ʼn 12V kragprop, twee lugsakke, en verkoeling vir die bekerhouers. Bykomend op dit wat die GA bied, is die GL toegerus met ʼn raakskerm van waar jy jou mediatoestelle (Bluetooth, USB, AUX), en radio kan beheer, sowel as beheerknoppe op die stuurwiel, sy-spieëls wat elektronies verstel kan word, lugreëling vir die agterste passasiers, ʼn 12V kragprop agter, en ʼn tru-kamera.

Die 2019 Suzuki Ertiga heet nou ʼn nuwe gesig en aanpassings om dit weer relevant te maak. Teen kompetisie soos die Toyota Avanza en Mahindra TUV300 (albei sewe-sitplek MPVs wat nes die Ertiga die begroting moet klop), moet die Ertiga ʼn harde en duidelike impak maak as dit die massas se aandag wil trek. En die eerste indrukke is dat Suzuki dit weereens reggekry het om ʼn goeie, eerlike produk die Suid-Afrikaanse mark in te stuur.

Pryse is as volg:

Suzuki Ertiga 1.5 GA – R214 900

Suzuki Ertiga 1.5 GL – R239 900

Suzuki Ertiga 1.5 GL AT – R254 900

Artikel: Charlen Raymond